Ekonomiese en bestuurswetenskappe
Graad 9
Bestuurs-, verbruikers- en finansiële kennis en vaardighede
Module 17
OM KONTANTTRANSAKSIES VAN DIENSTE EN HANDELSONDERNEMINGS TE BOEKSTAAF
Kontant- en Krediettransaksies en Proefbalans
- Hierdie leereenheid bestaan uit drie afdelings, naamlik:
- Hulpjoernale (Aktiwiteite 3.1 tot 3.4)
- Grootboekrekeninge (Aktiwiteite 3.5 tot 3.6)
- Proefbalanse (Aktiwiteit 3.7)
Afdeling 1: Hulpjoernale
AKTIWITEIT 1:
Om kontanttransaksies van dienste- en handelsondernemings te boekstaaf
[LU 3.3]
Die volgende kontanttransaksies vind gereeld in diens- en handelsondernemings plaas:
KOJ
- Kapitaalbydrae, kapitaalvermeerdering of kapitaalvermindering deur die eienaar
- Ontvangs van kontant vir dienste gelewer
- Verkoop van handelsware vir kontant
KBJ
- Aankoop van handelsware en ander items vir kontant
- Betaling van bedryfsuitgawes
Hierdie transaksies, waar kontant ontvang of betaal word, word in die KOJ en KBJ aangeteken.
OPDRAG 1:
- Voltooi ’n KOJ en KBJ vir die diensonderneming, Mzondi Loodgieters. Gebruik KOJ 3.1.1 en KBJ 3.1.1 op die hieropvolgende bladsye.
- Diensondernemings is ondernemings wat inkomste verkry deur die lewering van dienste en hul inkomste word in die KOJ aangeteken in ’n kolom met die opskrif: Lopende Inkomste.
- Z. Mzondi begin ’n onderneming met die naam Mzondi Loodgieters. Die volgende transaksies het gedurende September plaasgevind. Teken dit in die KOJ en KBJ aan en sluit die joernale af op 30 September 2003.
September 1 Z. Mzondi begin die besigheid deur sy kapitaalbydrae van R50 000 in die lopende bankrekening in te betaal
September 3 Huur ’n gebou van Denvon Eiendomme en betaal die huur per tjek 001, R525
September 6 Koop diensmateriaal per tjek 002 van Puma Winkels, R1 009
September 8 Reik tjek 003 uit vir R4 500 aan Lundi Winkels vir toerusting aangekoop
September 11 Ontvang skryfbehoeftes van Bundu Handelaars en betaal met tjek 004 vir R487
September 12 Kontant ontvang vir dienste gelewer volgens kasregisterrol, R2 073
September 14 Betaal die munisipaliteit R390 met tjek 005 vir water en elektrisiteit
September 15 Wissel tjek 006 om lone te betaal, R190
September 21 Kontant ontvang vir dienste gelewer volgens kasregisterrol, R1 795
September 25 Betaal Telkom R106 met tjek 007 vir telefoon
September 27 Tjek 008 vir R477 word uitgereik aan Mpula Versekeraars vir versekering
September 29 Lone word betaal met tjek 009 vir R210
September 30 Koop ’n voertuig van Mdantsane Motors en betaal per tjek 010 vir R28 000
Kasregisterrol toon ontvangstes van R2 418 vir dienste gelewer
OPDRAG 2:
- Voltooi ’n KOJ en KBJ van die handelsonderneming, Levubu Handelaars
- By handelsondernemings word voorraad gekoop en verkoop om ’n wins te maak. Goedere word teen ’n sekere prys aangekoop (kosprys) en teen ’n hoër prys verkoop (verkoopprys) om ’n wins te maak.
- Beide die kosprys en die verkoopprys moet in die KOJ aangeteken word ten einde winsberekening aan die einde van die periode moontlik te maak. Daar moet dus in die KOJ kolomme voorsien word vir verkope en kosprys van verkope in plaas van lopende inkomste soos by ’n diensonderneming.